Sunday, April 5, 2009

DAG 9: Middelburg na Graaff-Reinet

Met 'n vurige en gepaste boodskap deur Hardus was die manne reg vir nog 'n lang dag in die saal...maar hoe lank sou hul eers later uitvind.

'n Ompad deur die 'midde' stad het ons verseker dat almal daar van ons weet....al 12 mense!!

Net uit die dorp het elke fietsryer se nagmerrie ons moed in ons skoene laat sak, want die wind het behoorlik geroer...skuins van voor!! Die ouens op die pad het waarlik swaar gekry, en die feit dat ons ontbyt oorgeslaan het, het nie gehelp nie!? Kort-kort het ons gestop om 'n asem te vang, en om iets stewigs te eet, maar die wind het aanhou waai en knou aan die manne se bene!!



Teen die hange van Lootsbergpas het almal se bene meer na jellie en lood gevoel as spiere, maar van vasbyt weet Sonopers mos al lankal. Op 1781m bo seespieël het die wêreld maar klein, maar al te pragtig gelyk, en die ouens se hartspoed het die hoogtes in geskiet net deur na daai afdaende te kyk...teen 84km/h was die prag van die landskap net 'n vervaede prentjie vir die manne aan die stuur van die dromfietse, en hul spierwit kneukels het die storie van pure vreesaanjaende spoed vertel.
Aan die onderkant het ons skofte geruil, en dit was die 2de skof manne wat nou die wind moes trotseer. Weer het dit aan die manne se bene geknaag en kort-kort moes ons halt aanroep vir die voorste manne as ons die stert begin verloor het.

Naudebergpas was 'n "fillietjie" en voordat ons ons oë kon uitvee was ons bo, en die MAL afdraende was weereens 'n wenner vir die spoedvarke. Wessel het 'n toe geskenkie laat val, en transvalers oppad see toe het weer almal se bloeddruk die hoogtes in gejaag.


Doodmoeg en heeltemal uitgeput het ons by 'n lieflike groen grasperk in Graaff-Reinet opgedaag waar die ondersteuningsspan ietsie vir die keel op ys gehad het, reg vir die droë lippe.

Aandete in die Spur was 'n groot wenner...o ja, en die kos was lekker ook;-) môre oggend is ons weer daar vir ontbyt voordat die kortste skof van Drommedaris 2009 begin...die 53km na Aberdeen. Ons hou duimvas dat die wind sal gaan lê vanaand, maar al doen dit nie, is more mos maar net 'n dag oppad na KKNK.

No comments:

Post a Comment