Tuesday, April 7, 2009

DAG 10: Graaff Reinet na Aberdeen






Na 'n ontstuimige aand waar die wind amok gesaai het onder die tente, en die reën 'n paar ander uit hul hangmatte gejaag het, het ons ontwaak met ligblou hemele bo ons en net 'n ligte briesie. Na die vorige dag se stryd teen die wind was ons optimisties oor vdag se vooruitsigte...


'n Rustige en vullende ontbyt by Spur het ons wegspringtyd bietjie later verskuif, maar was verseker die moeite werd...ons skof was mos net 54km!!

Skaars by die dorp uit het ons probleme begin - een van die dromfietse se wiele het besluit om in te gee onder die krag van die 'brake-boosters' wat ons ingespan het om ons te help stop by daai passe af. Dus was die kosspan se oomblik van glorie maar van korte duur. Dit het egter nie vir kospa's Hein en Adriaan gekeer om elkeen 'n rit op Adriaan se nuwe fiets te vat nie. Nadat Hein die groep alleen van agter af ingery het, teen die wind, was hul albei in meer bekende waters, agter-op of binne-in die bakkies;-)

"Gelukkig", sê 'hulle' mos altyd, "as jou dag sleg begin kan dit net beter gaan later"
ai, hoe verkeerd was dit tog nie...

Met 'n magtige wind van voor (sterker as gister) en ou spike wat nou behoorlik dooie rus vat op die manne hier in die Camdebo distrik, was dit regitg 'n uiters harde skof. Die spoed het hier by 20km/h gebly vir die hele dag, en kort-kort het ons gestop vir verversings en iets te eet, want soos enigiemand wat al teen die wind gery het jou sal sê, dit is soos 'n nimmereindigende opdraende. Die groep het hulself egter baie goed van hul taak gekwyt, en met die einde in sig het hul vasgebyt om so om en by 3uur by Aberdeen in te strompel...


Weer was daar ietsie op die ys vir droë kele, en sommer dadelik het die kosspan begin met die aand se heerlike rooibok gereg.



Andre het gewerkskaf om die fietswaentjie te sorteer sodat al die fietse kan oppas vir die rit terug oor 3 dae, en sommer die landy uitgepak en oorgepak ook...

'n Paar manne het kings geniet, en kort voor lank was die kos reg, en die ouens het behoorlik hul vingers afgeëet aan die wildsvleis.
Die aand is afgesluit met een van die beste kontiki's wat drommedaris nog gesien het - die grappe was snaaks, die strawwe skerp en die pons behoorlik sleg! Floppies en sy aangenome seun, Vleisdas, was onskeibaar deur die loop van die verrigtinge, en Hardus het goed deurgeloop totdat hy stil-stil in die donker in weggesluip het...
More is weer 'n lang ene - die 120km van Aberdeen na Willowmore, maar dit is die 2de laaste dag, so daar behoort 'n klomp manne te wees wat die skof gaan aanpak...

laat die speke sing

No comments:

Post a Comment