Friday, April 3, 2009

DAG 7: Trompsburg na Colesberg

Na gisteraand se rustige verblyf in die kerk se saal het die stowwerige grondpaaie van Trompsburg gedien as ons wegspring vir dag 7. Met DJ Floppies in volle swang het die humor hoogty gevuur en almal moes maar vir ou-leon liedjies luister...
Soos oudergewoontoe het die manne volspoed weggespring, en binnekort was die eerste 30km oppad na Phillipolis agter die rug!! Na 'n kort stop en ontspan het ons weer in die pad geval. Die nou paadjies het vir genoeg opwinding gesorg en die ryers moes bokstaan vir die groot trokke wat elke nou en dan wou verby! Die landskap was egter pragtig, met hier en daar 'n verdwaalde springbokkie of 'n trop skapies het dit behoorlik die manne se asems weggeslaan.
Phillipolis is al 'n gerugte stop op die Drommedaris kalender. Die mooi ou wit kerk in die hoof (en enigste) straat is die agtergrond van die tradisionele spanfoto! Die kosspan se teen die tyd al gerugte kaas en ham broodjies het weer geloop soos in die ou dae terwyl DJ Floppies onderhoude gevoer het met van die dorp se inwoners.
Met vars bene het die toer se tempo weer gelig, want die vooruitsig van 'n swem in die magtige Oranje was net te groot om te weerstaan. Die water was bruin en koud, maar met warm en tam lywe het almal dit geniet om so af te koel.
Ongelukkig daal mens af na 'n rivier toe...ai:-( na die stewige opdraande het die pad se oppervlakte totaal-en-al verbrokkel en die toer se spoed drasties afgeneem. Die klank bakkie se manne was darm ten volle op hul pos en bewus van die gevare wat die gate inhou!!
Ons kampplek op die skool se rugbyveld is bo-op die heuwel, en die laaste opdraende het 'n paar manne lelik geknak...
Vanaand se ete by die Blue Moon het goed afgeloop en Superwillie het selfs een sonder kaas gekry!?
More is nog 'n lang dag in die saal, maar teen die tyd is jou fiets baie meer jou huis as wat jy ooit kon dink!! Oormore is dit tyd vir die groot passe tussen Middelburg en Graaf-Reinet, en mens kan al die moeg en seer in party manne se gesigte sien...

1 comment:

  1. Klink flippen lekker. Hoop jul enjoy dit baie!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!

    ReplyDelete